| Balram Halwai word vroeg uit die skool gehaal sodat sy familie sy niggie-halfsuster se troue kon bekostig. Eers moet hy in ’n teekamer gaan werk, maar uiteindelik word hy met die hulp van sy ouma opgelei as motorbestuurder en verander sy geldelike posisie. Ongelukkig verloor hy daarmee saam ook sy onskuld.
Kort voordat Halwai uit die skool gehaal word, verwerf hy die bynaam The White Tiger – “the creature that only comes along once in a generation”. Halwai vertel sy verhaal in opeenvolgende ongeposde briewe aan die Chinese premier nadat hy verneem het die premier gaan Bangalore, die stad waarin hy woon, besoek om spesifiek meer te wete te kom van die oënskynlike sukses van Indiese entrepreneurs. Halwai se storie is die “ware” verhaal van Bangalore, die verhaal wat nooit deur politieke leiers oorgedra sal word nie.
MENING: Aravind Adiga slaag uitstekend daarin om met sy debuut ’n hoogs leesbare storie te vertel oor hedendaagse korrupsie, verraad en gierigheid in Indië – ’n verhaal wat waarskynlik net so goed van toepassing op China as Indië kan wees. Die groot armoede, reuse-klasseverskille en politieke manipulasie spreek boekdele oor die hedendaagse wêreld, een wat Suid-Afrikaners al hoe meer vermoed ook hier bestaan. Tog is dit nie ’n neerdrukkende boek nie. Die verteltrant is maklik en besprinkel met ’n goeie skeut humorsin. Boonop word jy vinnig meegevoer deur die storie.
Of dit die Man Booker-prys moes wen? Hier’s kommentaar uit ’n paar Britse koerante, soos gerapporteer in die Britse tydskrif The Week: “The White Tiger is blazingly savage and brilliant,” skryf Neel Mukherjee in The Daily Telegraph. “It reads like a sign of troubled times,” meen Boyd Tonkin in The Independent en laastens Sameer Rahim in Telegraph.co.uk wat verdoemend reageer: “It resembles the first draft of a Bollywood screenplay. The humour is unsubtle, and the writing forgettable.”
Resensent: Irna van Zyl.
BOEKE-INSIG sê: Laasgenoemde kritiek is dalk net ’n raps te skerp. Adiga se roman is fassinerend en die gegewe slim gekonstrueer. Dis beslis die lees werd.
|